Monday, June 05, 2006

Nog is dit (Diana se) einde niet!


Di-ondersoek ’n slag vir Al-FayedJun 04 2006 09:33:12:240PM - (SA)

Mandy Rossouw

Londen. – Prinses Diana van Wallis was nóg swanger nóg verloof aan Dodi al-Fayed ten tyde van haar dood in Parys in 1997.

Lord John Stevens, die voormalige polisiehoof wat aangestel is om die besonderhede van Diana se dood in ’n motorongeluk in ’n Paryse tonnel te ondersoek, sê glo in sy verslag geen bewys bestaan dat die prinses swanger was nie.

Hy het bygevoeg die juwelier wat glo aan Dodi en Diana haar verloofring verkoop het, is weer ondervra en hy het erken die verloofring van £2 miljoen (sowat R25 miljoen teen die huidige wisselkoers) het nooit bestaan nie.

Stevens se verslag word eers later vanjaar bekend gestel, maar het aan die Mail on Sunday en News of the World uitgelek.

Die onthullings plaas mnr. Mohamed al-Fayed, eienaar van die luukse winkel Harrods en pa van Dodi, in ’n verleentheid nadat hy sedert die ongeluk volgehou het die voorval is die werk van sinistere magte.

Al-Fayed sr. meen die ongeluk is beplan deur Britse intelligensiemagte soos MI5 en MI6.
Hy sê Diana was swanger met Dodi se kind en die Britse koningsgesin wou nie ’n baba in hul midde hê wat “half-Moslem” is nie. Hy het prins Philip, koningin Elizabeth II se man, die skuld vir die ongeluk gegee en gesê die prins sou enigiets doen om te keer dat prins William ’n halfbroer het wat ’n Moslem is.

Volgens Al-Fayed is die ongeluk beplan en die paparazzi wat Diana en Dodi die aand van die ongeluk agtervolg het, was spioene.

Volgens Stevens se ondersoek dui niks op die betrokkenheid van MI5 en MI6 nie.

Dodi en Diana sou luidens sy verslag waarskynlik die ongeluk oorleef het indien hulle veiligheidsgordels gedra het.

Die ondersoek het bevestig dat mnr. Henri Paul, die bestuurder van die Mercedes-Benz waarin hulle gery het, dronk én te vinnig gery het en beheer oor die motor verloor het. Hy was nie, soos Al-Fayed beweer, ’n spioen wat met die intelligensiedienste saamgewerk het nie.

No comments: