Monday, March 13, 2006

Harrods

Harrods beslaan 92,000 vierkante meter verkoopspasie.

Die Harrods leuse is Omnia Omnibus Ubique – alles, vir almal, oral. Verskeie van sy departemente, byvoorbeeld die seisoenale Kersafdeling en die Kos saal is wêreldberoemd vir hulle verskeidenheid en kwaliteit van koopware.


Pels

In die laat tagtigs, het Harrods opgehou om pels te verkoop. Dit het onlangs weer begin en op die stadium is Harrods die enigste winkel in die Verenigde Koninkryk wat pels verkoop. Daar is gereeld anti-pels demonstrasies by die winkel in Knightsbridge. Harrods het ‘n tydelike hofbevel dat net 3 aktiviste op ‘n slag nader as 10 meter van die winkel mag kom, daarom die geel streep om die winkel.


Geskiedenis

Die Harrods storie het in 1834 in London se East End begin toe Charles Henry Harrod groothandel kruidenierswinkel in Stepney begin het. Die spesialiteit? Tee! In 1849 het Harrod ‘n klein winkeltjie in Knightsbridge (op die huidige perseel) oorgeneem.

Harrod se son Charles Digby Harrod het die besigheid opgebou van die enkelvertrek-winkeltjie met twee assistente en bode tot ‘n florerende saak wat medisyne, parfuum, skryfbehoeftes, groente en vrugte verkoop het. Hy het uitgebrei na die geboue om die winkel en het teen 1880 100 personeellede gehad. In Desember 1883 het die winkel tot op die grond afgebrand. Desnieteenstaande het Harrod al se Kersaflewerings voltooi en ‘n rekord-wins gemaak.

Daar was amper onmiddellik ‘n nuwe winkel en dit het vir die eerste keer krediet toegestaan aan die klante. Onder die destydse klandisie was daar bekendes soos Oscar Wilde, Lilly Langtry en Ellen Terry.



In 1889 het die winkel ‘n publieke maatskappy geword. In die 1890’s is nuwe afdelings bygevoeg soos die Harrods Bank en eiendomsagent. Die heel eerste uitverkoping (Winter Clearance) is in 1894 gehou.

Daar is interessante aankope gedoen... Noël Coward het een Kersfees ‘n krokodil uit die troetedierwinkel gekry, Ronald Reagan het ‘n baba-olifant, Gertie, gekry. Outeur A.A. Milne het die oorspronklike Winnie-the-Pooh vir sy seun Christopher Robin daar gekoop, en Alfred Hitchcock het vir hom vis uit Hollywood bestel.

In die 1900’s het die winkel seiljagte op bestelling gemaak, ‘n begrafnisonderneming bestuur (hulle het Sigmund Freud gebalsem), vliegtuie verkoop en huise gebou.

In die 1930’s het hulle die wêreld se eerste televisies gehad en jy kon ‘n volledig toegeruste ambulans (met verpleegster en al) by hulle huur.

In die 1940’s kon jy by hulle biblioteek aansluit en die horlosies in jou huis laat opwen deur die winkel se spesialiste.
Deur die Tweede wêreldoorlog was Harrods toonaangewend, maar in die 1980’s het ander winkels beginom hulle verby te steek. Hulle het hulle speelgoedsale uitgebrei.

Toe die Al Fayed familie die winkel gekoop het (teen £615 milljoen) het die winkel weer ‘n familiebesiheid geword. Hulle het nog miljoene spandeer aan die opgradering van die winkel (onder andere £20 miljoen aan die Egiptiese hyser).

Harrods het ‘n stad binne ‘n stad geword. Daar is min wat jy nie daar sal kry nie ;-)

Koninklike waarborge

Harrods het waarborge gehad van:
Queen Elizabeth II vir proviand en huishoudelike items
Die hertog van Edinburgh as uitrusters
Die prins van Wallis as uitrusters en verskaffers van sale
Die koninginmoeder vir glas en porselein


Harrods het die hertog van Edinburgh se waarborg gehad van 1956 af. Prins Philip het dit amptelik opgeskort in Desember 2001. Al Fayed het die res van die waarborge self opgeskort.

Nie een van die koninklikes het na 1997 en die dood van Diana en Dodi Al Fayed by Harrods gekoop nie.


Onder in die winkel is ‘n huldeblyk aan Dodi en Diana. Daar is foto’s, kerse, blomme, die ring wat hy vir haar gekoop het en ‘n glas waaruit hulle op daardie laaste aand sou gedrink het.

No comments: