Thursday, March 30, 2006

Tower Bridge


Tower Bridge is vir my een van die heel mooiste bakens in London.

In die tweede helfte van die negentiende eeu het die toename in verkeer daartoe gelei dat ‘n nuwe brug, stroom-af van London Bridge, nodig was. ‘n Tradisionele brug kon nie werk nie, want dit sou die verkeer na die hawe-fasiliteite by die Pool of London afsny.

‘n Spesiale ‘brug-komitee’ is in 1876 gevorm om die probleem op te los. Hulle het besluit op ‘n openbare kompetisie. Meer as 50 voorstelle is ontvang. In 1884 is die ontwerp van Horace Jones, die stadsargitek, goedgekeur.

Jones het ‘n brug van 244 m in lengte vooregestel. Dar sou twee torings wees wat elk 61 m hoog wou wees, elkeen op ‘n pier gebou. Die brug sou in die middel kon oopmaak en na die torings opgehys word teen 83 grade om verkeer deur te laat. Elkeen van die kante weeg vandag meer as 1000 ton. Hulle kan in ‘n minuut opgelig word en daar is voldoende kontra-gewig in die torings.

Die oorspronklike sisteem was hidrolies en water is onder druk gestoor in 6 houers. Die water is dan in stoomenjins gepomp. Die ou meganisme is nou oopgestel vir die publiek.

Werk aan die brug is in 1886 begin en 8 jaar later voltooi. Daar is
70 000 ton sement gebruik vir elkeen van die piers. Meer as 11 000 ton staal is gebruik vir die rame van die torings. Dit is toe oorgetrek met Cornish granite en Portland Stone, om dit mooi te maak en ook om die staal te beskerm.

Jones is in 1887 oorlede en sy hoof-ingenieur, Sir John Wolfe-Barry, het die projek oorgeneem.

Die brug is in 1893 deur die Prins van Wallis, die toekomstige koning Edward VII en sy vrou Alexandra van Denemarke geopen.

Die voetbruggies bo-op die brug het ‘n onaangename reputasie gekry en is in 1910 gesluit as gevolg van al die klagtes oor sakkerollers en prostitute. Dit is heropen as deel van die Tower Bridge Experience.

‘n Behind the Scenes tour kan vooraf bespreek word vir wanneer die brug gelig moet word. Dit gebeur ongeveer 500 keer per jaar. Rivier-verkeer is baie minder as in die verlede, maar geniet steeds voorrang bo die padverkeer. In 1996 het dit byna tot ‘n diplomatiese insident gelei toe die brug onverwags gelig is en Bill Clinton en sy gevolg vasgesit het.

Van tyd tot tyd haak die brug vas, die laaste insident was op 2 Junie 2005.

No comments: