Tuesday, April 25, 2006

Cutty Sark


Die Cutty Sark was, in 1869, een van die laaste clippers wat gebou is en sy is die enigste klassieke clipper wat behoue gebly het. Sy lê nou in droogdokke in Greenwich (baie naby aan die National Maritime Museum en Greenwich tydlyn).

Die skip is vernoem na ‘n kort rompie wat beskryf word in die gedig Tam o' Shanter van Robert Burns. Sy is ontwerp deur Hercules Linton en in 1869 in Dumbarton, Skotland, gebou vir kaptein John Willis.

Die skip was bestem vir die Chinese teehandel, in daardie jare ‘n baie kompeterende resies om die aarde van China na London met reuse winste vir die skip met die eerste tee van die jaar. Sy het egter nie goed gevaar nie. In 1872 het sy en die Thermopylae saam uit Shanghai vertrek op 18 Junie, maar sy het haar roer verloor en eers ‘n week na die Thermopylae in London aangekom. Wat was so besonders aan die resies? Haar kaptein het met ‘n geimproviseerde roer aangegaan in plaas daarvan om in ‘n hawe vir ‘n nuwe een te wag en hulle is ten spyte hiervan met net ‘n week geklop!

Clippers is vervang deur stoomskepe in die teehandel en die Cutty Sark is toe gebruik vir die Australiaanse wolhandel. Sy kon van Australië tot in London vaar in net 67 dae. Sy was toe die vinnigste skip van haar grootte.

In 1895 het Willis haar aan die Portugese firma van Ferreira verkoop en sy is herdoop na die maatskappy. Sy was toe in Kaapstad gestasioneer. In 1922 het kaptein Wilfred Dowman haar gekoop en herstel tot haar oorspronklike voorkoms. In 1954 is sy droogdokke toe.

Die Cutty Sark word in Hart Crane se lang gedig "The Bridge" (gepubliseer in 1930) genoem.

Vandag is sy ‘n museumskip en prominente landmerk op die London marathon. Die publiek kan (teen ‘n fooi) aan boord gaan en rondkyk.

No comments: