Tuesday, April 11, 2006

Die Paleis van Westminster


…is ook bekend as die Houses of Parliament. Dis waar die twee huise van die parlement (die House of Lords en die House of Commons) sit.

Die oudste deel van die paleis wat steeds bestaan, dateer uit 1097. Die paleis was oorspronklik ‘n koninklike woning, maar geen monarg het sedert die 16de eeu daarin gewoon nie. Die grootste deel van die struktuur dateer uit die 19de eeu toe die paleis herbou is nadat dit amper in 1834 in ‘n brand uitgewis is. Die argitekte was Sir Charles Barry en Augustus Welby Pugin. Big Ben is een van die torings in die paleis.

Die paleis was in die middeleeue strategies geplaas langs die Teemsrivier. Die tereein was in die middeleeue bekend as Thorney Island en was moontlik die woonplek van Canute die Grote wat van 1016 tot 1035 regeer het. Dit het later bekend geword as Westminster (West Monastery).

Daar is meer as 1 000 vertrekke in die paleis waarvan die belangrikste sekerlik die huise van die parlement is. Daar is ook raadsale, biblioteke, eetkamers, kroeë en gimnasiums. Die parlementêre kantore spil ook oor na nabygeleë geboue soos Portcullis House. Daar is meer as 100 stelle trappe en 5 kilometer se gange!

Die stene wat gebruik is vir die geboue was oorspronklik Anstone, ‘n sandkleurige steen wat in Anston in Yorkshire ontgin is. In 1910 was dit duidelik dat die stene vervang moes word en daar uiteindelik in 1928 besluit op Clipsham Stone, ‘n heuningkleurige leisteen uit Rutland. Die projek het in die 1930’s begin, maar is vertraag deur die tweede wêreldoorlog. Dis uiteindelik aan die begin van die 1950’s voltooi. Teen die 1960’s was daar weer probleme as gevolg van besoedeling. ‘n Steen-restorasie projek is van stapel gestuur in 1981 en in 1994 voltooi.

Daar is verskeie torings in die geboue. Die hoogste is die Victoria Toring (98 meter). Dis by die House of Lords se rekordkantoor (wat eintlik albei huise van die parlement se rekords het).

In die middel is Central Tower (91 meter). Die beroemdste van die torings is sekerlik Big Ben! Ek het ‘n hele Post daaroor geskryf, loer gerus ;-)

Daar is ‘n paar tuine op die terrein. Die Victoria Tower Gardens is ‘n publieke park langs die rivier, suid van die paleis. Daar is ook Black Rod's Garden (vernoem na die Gentleman Usher of the Black Rod), hierdie is ‘n private tuin. Die sogenaamde Old Palace Yard, voor die paleis, is nou geplavei. Cromwell Green en Speaker's Green is ook nie toeganklik vir die publiek nie.

Die House of Lords is in die suidelike deel van die paleis. Die vertrek is 14 by 24 meter groot en het rooi stoele. Daar is loodglas-vensters en 6 allegoriese fresco’s wat Godsdiens, ridderlikheid en die wet verteenwoordig. Die boonste deel of viewing gallery het ‘n gordyntjie om. Dis in die 1920’s gehang om die enkels en bene van vroue te bedek, want dit was onvanpas dat die here dit sou sien.

Aan die punt van die vertrek, is daar die troon waarop die koning/ koningin teoreties mag sit gedurende enige parlementsitting, maar hulle woon al jare lank net die opening van die parlement by. Ander lede van die koninklike familie wat die opening bywoon, sit op ‘chairs of state’ langs die troon. Voor die troon is die sogenaamde Woolsack, ‘n ruglose en armlose rooi kussing met wol gestop wat die historiese belang van wolhandel verteenwoordig.

Die House of Commons is aan die noordekant van die paleis. Dit is 14 by 21 meter groot. Hulle stoele is groen. Aan die een kant is die speaker se stoel, ‘n geskenk van Australië. Net 427 van die meer as 800 lede van die parlement kan geakkomodeer word.

Die laaste monarg wat in die House of Commons ingegaan het, was Koning Charles I (in 1642); hy het 5 lede op klag van hoogverraad gaan soek. Toe hy die Speaker, William Lenthall, gevra het waar hy die individue kan kry, het die geantwoord: "May it please your Majesty, I have neither eyes to see nor tongue to speak in this place but as the House is pleased to direct me, whose servant I am here."

Westminster Saal

Westminster Saal is die oudste deel in die paleis en is in 1097 opgerig. Histories het dit verskeie funksies gehad, maar is hoofsaaklik vir regspraak gebruik. Drie van die belagrikste howe is daar gehuisves: die Court of King's Bench, die Court of Common Pleas, en die Court of Chancery. In 1873 het die howe saamgesmelt om die High Court of Justice te vorm.

Van die twaalfde tot die negentiende eeu af is inhuldigingsplegtighede daar gehou. Die laaste banket van die aard is gehou vir Koning George IV (1821); sy opvolger, William IV, het gesê dat dit te duur was.

Staatsleiers het ook daar in staatsie gelê. Onder hulle was Sir Winston Churchill (1965) en onlangs HM Queen Elizabeth The Queen Mother in 2002.

Die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (UNESCO) klassifiseer die Paleis van Westminster as ‘n World Heritage Site. Dis ook ‘n Graad I gelyste gebou.

Jy kan nie sommer net ingaan nie, maar daar is tog maniere:

Britte mag na die publieke debatte kyk van die gallery af. Hulle moet vooraf deur hulle MP kaartjies bekom.
Die Britte mag ‘n toer versoek van hulle MP’s wanneer die parlement in sitting is.
In die somer is daar toere vir Britte en toeriste, maar jy moet vooraf bespreek.

Die foto kom van die Live Webcam Site af.

No comments: