Monday, May 08, 2006

Rapport se reaksie op die sultan en sy olifant

06/05/2006 20:10 - (SA) Sultan se olifant stel koningin se koets in skadu
PIETER MALAN

Londen Prag, praal en seremonie is niks snaaks in Londen nie - die stad is immers die tuiste van 'n koningin wat gereeld in 'n goue koets deur die strate ry.

Maar voortaan sal alle verskynings van koningin Elizabeth II gemeet word aan die prag, praal en wonder van die dag toe die sultan Londen besoek het met sy drie verdieping hoë olifant.
Waar die sultan vandaan kom, weet niemand nie. 'n Eksotiese, ouwêreldse Midde-Oosterse koninkryk miskien?

Die sultan en sy olifant is die werk van 'n Franse teatergroep, Royal de Luxe.
Vergeet van silwerstandbeelde op Leicester Square wat beweeg elke keer as jy 'n pennie in hul hoed gooi. Hierdie is straatteater op nywerheidskaal met marionette groter as busse wat met hyskrane opgetel moet word.

Die sultan se olifant is 'n reusagtige meganiese gedierte wat 40 ton weeg. Sy logge bewegings, swaaiende slurp en wapperende ore herinner so baie aan sy regte Afrikabroers dat dit kindertjies in trane laat uitbars.

As hy water oor die skare spuit of sy olifantasem oor hulle blaas, ril die mense van plesier.
Dit kos 'n peloton van minstens twaalf poppemeesters om hom aan die beweeg te hou. Op sy rug ry die sultan en sy gevolg - op soek na die meisietjie van sy drome.

Hy het haar Vrydag gekry op Horse Guard's Parade naby St. James's Park. Hy kon haar nie mis nie, want sy is bitter ver van "klein" af. Sy is 'n reuse-marionet wat 6 meter in haar sokkies staan.

Sy het vroeër die dag, met behulp van 'n reuse-hyskraan, uit 'n vuurpyl geklim wat gedurende die nag in Waterloo Place geland het. Nadat die olifant haar koel geblaas en haar voete met sy slurp afgespuit het, het sy op 'n skopfiets geklim om die strate van Londen te verken.

Hoe die fantasmagoriese skouspel gaan eindig, weet ons nie. Die laaste bedryf speel eers Sondag in Londen se strate af. Maar intussen geniet die sultan veel meer aandag in die koningin se stad as die koningin self.

No comments: